“Steek die Vure Aan” ryg Ghoema benoemings in

BOK VAN BLERK

Facebook Twitter YouTube
News_01_GhoemaAwards

“Steek die Vure Aan” ryg Ghoema benoemings in

Tweet about this on TwitterShare on FacebookShare on StumbleUponEmail this to someone

Die benoemings vir die 2014 Ghoema Afrikaanse Musiek Toekennings, met trots geborg deur kykNET , is op Vrydag 7 Maart bekend gemaak. En dit kom as geen verrassing dat “Steek die vure aan,” Bok van Blerk se mees onlangse uitreiking, spog met drie benoemings nie, asook benoemings vir die skrywers en vervaardigers van die CD nie.

Sedert die totstandkoming van die Ghoemas in 2012, het dit vinnig die maatstaf geword waaraan die gehalte van Afrikaanse musiek jaar na jaar gemeet word.. En te midde van strawwe kompetisie, het Bok van Blerk dit vermag om benoemings in drie van die kategorieë te verkry naamlik: Album van die Jaar, Beste Kontemporêre Album deur ‘n Manlike Kunstenaar en Manlike Kunstenaar van die Jaar. Boonop is Johan Vorster en Christoph Kotze wat beide liedjies vir die “Steek die vure aan” album geskryf het, ook benoem in die “Beste Liedjieskrywer” kategorie en Murray Lubbe en Juan “Floors” Oosthuizen spog met ‘n benoeming as “Beste Vervaardiger” vir dieselfde album.

Huidiglik doen die titelsnit van “Steek die vure aan” verder voorbrand vir die album se gewildheid en volg dit in die spore van “Land van melk en heuning” deur op verskeie radiostasies se trefferslyste te verskyn. Maar dis nie net die Ghoema beoordelaars wat die album en kunstenaar hoog aanskryf nie. Daarvan getuig die platinumverkope sedert die vrystelling in September 2013.

Bewonderaars besef nie altyd hoe baie sulke erkenning vir kunstenaars beteken nie. Juis daarom het Bok dit ook goed gedink om ‘n video op die CD in te sluit waar hy almal wat die CD koop persoonlik bedank. Die video is verkrygbaar deur ‘n QR-kode wat op die omslag ingesluit is te skandeer.

Met die Ghoemas wat op 13 April te Carnival City plaasvind, het Bok se bewonderaars nou die kans om hul stem per SMS uit te bring in die kategorieë waarin Bok of almal wat aan die album gewerk het benoem is. Elke persoon kan ‘n maksimum van 20 stemme per kategorie uitbring teen ‘n koste van R1,50 per SMS. Dus, as jy vir Bok wil stem, stuur ‘n SMS aan 41808 met slegs die kategorie-letter en benoemingsnommer. Hieronder is die kategorieë waarin Bok benoem is:

Album van die Jaar: SMS A2 na 41808.

Manlike Kunstenaar van die Jaar: SMS B1 na 41808.

Beste Kontemporêre Album deur ‘n Manlike Kunstenaar: SMS I1 na 41808.

Beste Liedjieskrywer: SMS T1 na 41808 vir Christoph Kotze of T4 vir Johan Vorster.

Beste Vervaardiger: SMS U2 na 41808 vir Murray Lubbe en Juan “Floors” Oosthuizen.

Vir meer inligting oor die Ghoemas, gaan na www.ghoema.co.za

_______________________________________________________________________________

Vir meer inligting, skakel gerus:

Jenny Griesel

Johan Vorster Songs

jenny@johanvorstersongs.co.za / 076 129 9280